

Neem asseblief kennis van die volgende:
Aan alle leraars, saakgelastigdes, voorsitters van kerkrade en afgevaardigdes na Sinode 2026
TYD EN PLEK
Die Sinodesitting sal DV vanaf Maandag 31 Augustus tot Vrydag 4 September 2026 by AP Kerk Wonderboom gehou word. Die adres van AP Kerk Wonderboom is h/v Daan de Wet Nel Rylaan en Ivor Street, Hesteapark, Akasia, Pretoria, 0001
Afgevaardigdes moet so vroeg moontlik deur kerkrade aangewys word sodat hulle voldoende geleentheid het om die Sakelys te bestudeer. Die Sakelys sal DV vanaf 29 Junie 2026 beskikbaar wees.
REGISTRASIE
Neem asseblief kennis dat registrasie op Maandag 31 Augustus 2026 om 09:00 sal begin en dit moet vóór 11:00 afgehandel wees sodat die Sinode om 12:00 ʼn aanvang kan neem.
Afgevaardigdes wat nie vóór 11:00 geregistreer is nie, het nie stemreg by die aanvang van die Sinode nie en is ook nie verkiesbaar as ampsdraers nie. Afgevaardigdes wat laat registreer, sal dus eers stemreg ontvang wanneer die voorsitter so reël.
GELOOFSBRIEWE
Skribas van kerkrade moet asseblief die geloofsbrief met die nodige inligting vir elke afgevaardigde en moonlike besoekers na die Sinode, voor 30 Junie 2026 op die volgende webblad voltooi: www.apksinode.com
Let asseblief onder meer op die volgende punte:
-
Volgens artikel 38.1 van die kerkorde word die Sinode saamgestel uit afgevaardigdes van elke gemeente. Kerkrade word vriendelik versoek om hiermee erns te maak. Die doel van die vergadering is juis om gemeenskaplike sake aan die hand van die Woord van God te bespreek. As kerke in die kerkverband het ons die verantwoordelike roeping teenoor mekaar om te sorg dat daar minstens een afgevaardigde uit elke gemeente teenwoordig sal wees. Anders as in die geval van ʼn ring, kan ʼn kerkraad sonder ʼn leraar net twee ouderlinge na die sinode afvaardig.
-
Volle name en adresse van die leraar(s) en afgevaardigde lede (primarius en sekundus lede) moet noukeurig verstrek word. Sorg asseblief dat die spelling en al die inligting korrek is alvorens u die “stuur”-knoppie druk!
-
U sal dadelik ʼn elektroniese afskrif van die geloofsbrief per e-pos kry wat u asseblief moet uitdruk. Dit moet dan in swart ink deur die voorsitter en skriba van die kerkraad onderteken word. Hierdie getekende geloofsbrief moet dan fisies tydens registrasie ingedien word, anders sal die afgevaardigdes nie stemreg hê nie. Tydens registrasie word ʼn lêer en naamkaartjie aan u oorhandig. Die naamkaartjie is ook die bewys dat u vir etes bespreek en betaal het.
-
U hoef nie vooraf ʼn afskrif van die geloofsbrief aan die Gemeenskaplike Kerkkantoor te stuur nie, aangesien die stelsel die nodige inligting deurstuur. Let egter daarop dat die bogenoemde geloofsbrief in 3.1.3 wat in swart onderteken is, die enigste geldige geloofsbrief is.
-
Indien daar enige gaste saam met die afgevaardigdes kom, moet dit ook so aangedui en die addisionele kostes betaal word.
VERBLYF EN SPYSENIERING
Verblyf
ʼn Versoek word gerig tot lidmate van die omliggende gemeentes om te hoor wie bereid sal wees om daarmee te help. Afgevaardigdes met familie of vriende in die omgewing, moet asseblief alternatiewe verblyf probeer kry.
Die KBS wil poog om die program só te reël dat afgevaardigdes vir wie Pretoria onbekend is, nie laat in die aande of deur besige stadsverkeer hoef te sukkel nie. Vir diegene wat wel huisvesting by lidmate benodig word R250-00 per persoon vir die hele tydperk gevra. Dit is basies net om die gasheer te vergoed vir die ongerief en elektrisiteit wat gebruik word.
Kerkrade en afgevaardigdes word daarop gewys dat daar nie ná bespreking van verblyf en etereëlings daarvan afgewyk kan word nie. Kerkrade bly verantwoordelik vir die volle koste soos in die besprekingvorm aangegaan is.
Vir gastehuise in die omgewing kan u gaan soek op die webwerwe van byvoorbeeld www.lekkeslaap.co.za en www.booking.com
Etes en verversings
Alle etes word op die terrein deur AP Kerk Wonderboom voorsien aan persone wat bespreek en daarvoor betaal het. Op Maandag 31 Augustus 2026 word koffie en tee asook verversings verskaf soos wat Sinodegangers aankom. Daar sal dus nie ʼn tradisionele ontbyt verskaf word nie.
Daar word wel op Maandag ’n middagete en ’n aandete bedien. Van Dinsdag tot Donderdag word drie maaltye per dag bedien en op Vrydag ontbyt. U kan wel ’n kospakkie vir Vrydagmiddag bestel teen ’n bykomende R50 elk tydens registrasie op Maandag 31 Augustus 2026.
By elke ete sal daar voorsiening gemaak word vir diabete. Indien enige afgevaardigde allergies is vir neute moet dit asseblief op die registrasievorm aangetoon word.
Tee of koffie met verversings sal tydens pouses bedien word en is reeds by die spysenieringskoste ingesluit.
Sinodekoste per afgevaardigde (Sakelys, alle etes, tee/koffie/verversings) beloop R3,000.00 per persoon.
Etes vir gaste
Indien ’n afgevaardigde sy gade wil saambring, moet hy dit asseblief op die registrasievorm so aandui. Nadat die geloofsbrief met die inligting rakende die afgevaardigdes en hul gades ingevul is, sal daar ʼn faktuur aan die kerkraad gestuur word. Die addisionele koste vir gaste se etes beloop R120 per ete per persoon. Gaste vir wie daar nie vooraf bespreek en betaal is nie, sal ongelukkig nie saam kan eet nie.
Snoepie
Daar sal ’n snoepie by AP Kerk Wonderboom beskikbaar wees.
TYDELIKE KOMMISSIES VAN DIE SINODE
Ten einde Sinodegangers reeds vóór die Sinode in kommissies in te deel, word elke afgevaardigde gevra om sy voorkeurorde tydens die aanlynregistrasie aan te dui. Hierdie dien wel net as ʼn riglyn, aangesien alle afgevaardigdes nie ingedeel kan word nie. Die tydelike kommissies sal net na registrasie deur die Sinode aangewys word.
SAKELYS VIR DIE SINODE
Die sakelys sal ook DV ná 30 Junie 2026 op die webblad by www.apksinode.com geplaas word. Aangesien die inhoud van die Sakelys vertroulik is en nie bekend gemaak word voordat die Sinode oor die sake daarin besluit het nie, sal daar ná indiening van die geloofsbrief ʼn wagwoord aan u gestuur word om toegang tot die aanlynsakelys te verseker.
Op die webblad sal u dan ook geleentheid kry om voorstelle of amendemente vroegtydig in te dien. Let egter daarop dat hierdie voorstelle en amendemente slegs tydens die vergadering kan dien indien ʼn afgevaardigde dit persoonlik aan die vergadering voorhou.
Volgens sinodebesluit word daar ten minste een gedrukte Sakelys aan elke gemeente gestuur om in hulle argief te bewaar. U moet dus asseblief tydens die voltooiing van die inligting aantoon hoeveel gedrukte Sakelyste aan u gestuur moet word. Afgevaardigdes wat gedrukte Sakelyste verkies, se Sakelyste word aan die saakgelastigde van die gemeente gestuur. Saakgelastigdes moet dan asseblief onmiddellik aan elke afgevaardigde ’n eksemplaar voorsien.
Saakgelastigdes van kerkrade moet asseblief toesien dat een afgevaardigde ná afloop van die Sinode sy volledige stel Sinodestukke (dit wil sê Sakelys, Bylaes ens.) aan die kerkraad oorhandig vir bewaring.
Afgevaardigdes word versoek om die Sakelys vooraf te bestudeer. Aangesien daar nie tydens die Sinode tyd is om alles te lees nie, sal die Sakelys as gelese beskou word. Die inhoud van die Sakelys word as vertroulik beskou totdat die Sinode dit in behandeling neem.
Afgevaardigdes moet asseblief elkeen hul eie eksemplaar van Kerkorde 2023 saambring. Die ordereëls vir kerklike vergaderings, soos vervat in die Kerkorde (bl. 64-68), geld ook vir die Sinode. Dié ordereëls word as gelese beskou.
FINANSIES
Saakgelastigdes van kerkrade moet die totale bedrag vir hulle afgevaardigdes (plus enige gaste) betaal in die GKK se bankrekening met die volgende besonderhede (ABSA Hatfield, rekeningnommer 2140 143 068) en die bewys van betaling moet die Gemeenskaplike Kerkkantoor NIE LATER NIE as 30 JUNIE 2026 bereik. Stuur asseblief u bewys van betaling aan madeleen.leroux@apk.co.za of rekenmeester@apk.co.za.
KLEREDRAG
Volgens sinodebesluit is die kleredrag by die Sinode ʼn netjiese pak klere met ʼn das.
REISREËLINGS EN KOSTEBESPARING
Afgevaardigdes word versoek om sover moontlik saamrygeleenthede te beplan ten einde koste te bespaar. Reëlings met naburige gemeentes kan gerus ondersoek word. Kerkrade is self verantwoordelik vir die reiskoste van afgevaardigdes.
PARKERING
Die terrein van die AP Kerk Wonderboom beskik oor voldoende parkering.
TOEGANGSBEHEER EN SEKURITEIT
Daar sal deurentyd sekuriteit wees.
GROETEBOODSKAPPE
Gemeentes en instansies word aangemoedig om groeteboodskappe/seënwense aan die Sinode te stuur. Boodskappe in die vorm van briewe, foto’s en video’s is welkom en sal na goedkeuring op die webblad geplaas word vir besigtiging. Stuur dit asseblief na direkteur@apk.co.za.